We have 4 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more


Só las mens koolstofpyle vir tradisionele boë

Bernard Wessels beskryf 'n manier om gebreekte kool­stofpyle te las en so heelwat te bespaar op die koste van nuwe pyle.

Die meeste boogskutters ken die frustrasie van 'n kool­stofveselpyl teen 'n klip of iets stukkend skiet of die punt binne-in die pylskag instamp. Behalwe vir die feit dat die pyl nou onskietbaar en onveilig is, is die vervangingskoste van die pyl die een ding wat my persoonlik die meeste pla. Pyle is duur, maak nie saak watter soort pyl jy koop nie. In die wêreld van die tradisionele boog gebeur dit maar al te gereeld dat 'n splinternuwe pyl wat met groot moeite geveer en op die regte lengte gesny is, met die eerste skoot aan flarde geskiet word. Ná vele finansieel uitputtende besoeke aan die pylhandelaars het ek begin wonder of daar dalk 'n manier kon wees om pyle van koolstofvesel veilig en ekonomies te las.

>> Die twee stukke pylskag word aanmekaar gelas mbv 'n dunner stukkie pylskag wat presies binne-in die twee stukke pas.

My beroep is tegnies van aard en ek is dan ook 'n groot aanhanger van die "doen dit self"-denkwyse. Ek het dadelik begin eksperimenteer. Na 'n paar dae se dink en probeer het ek afgekom op 'n metode wat ekonomies en veilig is sonder om die styfheid ("spine") of die vlug-karakteristieke van die pyl te beïnvloed – mits daar tydens die lasproses op 'n paar dinge gelet word.

Voorbereiding
Neem 'n stuk van die gebreekte pyl saam met jou na die plaaslike boogwinkel en vra vir 'n nuwe vollengtepylskag wat presies binne-in die gebreekte een pas. Die stukke moenie só presies inmekaar pas dat die nuwe stuk in die oue ingeforseer moet word nie, anders gaan daar nie ruimte tussen die wande wees vir die hegmiddel nie. Hulle moet ook nie te los pas nie, want dit sal die belyning van die twee buitenste stukke wat aanmekaar gelas gaan word nadelig beïnvloed. In sekere gevalle sal jy vind dat die pylskag wat binne-in die gebreekte pyl moet pas, duurder is as die pyl wat jy wil regmaak. Maar die dunner skag word tydens die lasproses in klein stukkies gesny. Jy kan uitwerk hoeveel sulke stukkies uit 'n vollengtepyl gesny kan word en dan sien hoeveel pyle gelas kan word met die stukkies. Een stukkie van 40 millimeter word benodig vir die las van een pylskag.

<< Smeer gom aan die een helfte van die dunner stukkie en druk dan dié helfte in een van die dikker stukke in. Gee die gom tyd om te set.

Metode
Bekyk die pyl wat gelas moet word en buig hom met die hand om kyk vir krake of merke wat nie met die oog gesien kan word nie. Pasop dat jy nie koolstofsplinters in jou hande of vingers laat steek nie, want die splinters is baie skerp en is moeilik om te sien en te verwyder. Sny dan die gebreekte skag af – ver genoeg van die plek waar hy gebreek het dat sy strukturele integritieit nie meer deur krake beïnvloed word nie. Neem dan 'n lang genoeg stuk van dieselfde soort pyl as die een wat gelas word en bepaal die totale lengte van die pylskag: die lengte wat die skag moet hê nadat die las voltooi is, plus 10 millimeter. Sny die stuk op lengte. Sny dan die dunner pylskag – die een wat binne-in die oorspronklike pyl moet pas – in stukkies van 40 millimeter.

>> Doen dieselfde met die ander helfte van die kort stukkie en die ander dik stuk. Gee die gom weer tyd om te set.

Dit is uiters belangrik dat alle snitte perfek haaks moet wees. As jy nie oor 'n pylsnytoestel beskik nie, kan jy die plekke waar die skagte gesny moet word noukeurig merk en die skagte dan na die boogwinkel neem om gesny te word. Meeste boogskutters het 'n goeie verhouding met hul plaaslike booghandelaar en ek is oortuig daarvan dat die handelaar nie sal omgee om die snitte vir jou te doen nie. Ek doen die snitte met 'n klein hoekslyper ("baby grinder") wat in 'n tuisgemaakte snytoestel gemonteer is en die dunste beskikbare staalsnylem op het.

Neem dan 'n hegmiddel van goeie gehalte, soos bv. "superglue" of die gom wat op plastiese skaalmodelle gebruik word en wat by meeste stokperdjiehandelaars beskikbaar is. Smeer die een helfte van die dun 40-millimeterstukkies wat reeds gesny is en druk dié helfte (20 millimeter) met 'n draaiaksie binne-in die skag wat gelas moet word. Laat genoeg tyd toe vir die gom om droog te word. Doen dan dieselfde met die ander stuk skag – die een wat aangelas word – en maak seker dat die twee stukke skag styf teen mekaar gedruk word ten einde 'n netjiese en sterk las te verseker. Laat die samestelling eenkant om droog te word. Indien "superglue" vir die las gebruik word, moet 'n mens vinnig werk met die indruk van die interne pylstukkies omdat dié soort gom feitlik onmiddellik set en vir 'n groot klomp frustrasie kan sorg. Ek verkies "superglue" want dit plak vinnig en verseker 'n sterk en feitlik onsigbare las as die gelaste area eers met staalwol skoongemaak is.

Sny nou die ekstra tien millimeter wat vroeër by die pyllengte gevoeg is, af om die skag weer sy oorspronklike lengte te gee. Plak die aluminium-passtuk vir die punt terug in die voorpunt van die pyl.

Hou in gedagte
Ek het met die tyd deur eksperimente bepaal dat dit nie raadsaam is om die las in die skag verder as een derde van die oorspronklike pyl se lengte van die voorpunt af te maak nie. 'n Derde is heeltemal veilig, maar daarna begin die lasplek die styfheid of "spine" van die pyl, wanneer hy uit 'n tradisionele boog geskiet word, nadelig beïnvloed. Hoewel ek ter proefneming wel gelaste pyle uit my Mathews Switchback XT-boog wat op 70 pond gestel is, geskiet het, is dit nie aan te beveel dat dit gedoen word met 'n moderne katrolboog wat op meer as 40 pond gestel is nie. Die risiko is net te groot dat 'n swak las die pyl kan laat breek en bv deur die skut se hand kan laat dring. Ek skiet met groot sukses die gelaste pyle uit my tradisionele boog – 'n Jaco Wessels Hunting Hybrid 1 (51 pond by 28 duim) en ek het nog nooit 'n pyl gekry wat breek of enigsins nie reg vlieg nie.

By die onlangse TASA-skietdag by die Elgro River Lodge het ek vir Rodney Bassingthwaighte gevra om van my gelaste Easton Powerflite 500-pyle met 145-greinpunte uit sy Hoyt Tiburon-boog (50 pond) te skiet. Hy kon geen fout vind met die pyle se trajek of akuraatheid nie, en ook nie met die strukturele integriteit van die pyle nadat hulle geskiet is nie.

Updated: Tuesday, August 16, 2011 8:43 AM


 

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 4 guests and no members online