We have 94 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more


Oom Dries en die "Driezie"

Wanneer dinge vir my te maklik en te beredeneerd begin raak, is ek geneig om belangstelling en entoesiasme te verloor. Wanneer 'n teleskopiese visier my in staat stel om 'n kopskoot op 200 meter-plus te skiet, voel ek nie meer soos 'n jagter nie! Nuwe teleskope is nou selfs met 'n rekenaar en afstandmeter toegerus, wat jou die presiese aanduiding gee waar om te mik.

Ek blaai deur ons jagtydskrifte en ek sien mooi foto's van jagters met hulle groot gewere en jagters met hulle 70 pond en meer "elektriese" boë met die katrolle. Dan sien ek ook die manne met die tradisionele en historiese boë en langboë, sonder korrels en visiere en wat nog met die hand werk… en ek like dit!

Dit is ook heel opvallend dat op die foto's wat ek gesien het, niemand in die tradisionele of langboog­klasse met houtpyle gejag het nie. Die vraag is: waarom is die houtpyl met al sy swier en nostalgie dan so ongewild onder die jagters? Waarom jag ons dan nog met die langboog? Sal ons dan 'n geweer maak wat soos 'n voorlaaier lyk, met 'n slotwerking wat 'n .375 HH Mag patroon netjies en gladweg in die patroonkamer se keel laat afgly? Nee, dit pas net nie! Langboog en houtpyl is soos battery en torch.

My vriend Langboogvriend, nou weet jy waar ek staan. Ek het ook foto's om my jagspog met die compound te wys. Dit was goed, maar soos ek gesê het, dit het te beredeneerd en te maklik geword en ek het die behoefte gehad om dinge meer uitdagend en meer gekompliseerd te maak. Gekompliseerd in dié opsig dat dit 'n meer uitdagende proses moet wees wat op die ou end meer vernuf van my sou vereis om uiteindelik ook dit te bereik wat ek met die compound kon regkry: om met die langboog en houtpyle suksesvol te jag. Dit, my vriend, is my visie.

Kortom, my missie is om die toerusting wat ek het, in werkbare instrumente te omskep ten einde 'n blesbok suksesvol te jag. Dit was spesifiek 'n blesbok, omdat ek een by Johan Roux van Rondeberg Safari's gekry het om te jag.

Nou ja, my langboog is 'n 46 pond teen 28 duim Audissey van Jaco Wessels. Ek moet dus die 46 pond so doeltreffend moontlik gebruik, sodat daar genoeg kinetiese energie gegenereer word om minstens dwarsdeur 'n blesbok te dring.

Ek praat met Rean Steenkamp. Sy aanbeveling is 'n swaar pyl. Ek "maak" 'n swaar pyl van 597 grein. Rean soek spoed. Ek jaag die 597 grein-houtpyl met 46 pond agter sy nok deur die chronograaf. Die uitslag is 147 vt/sek. Ek praat met Rean en kry die groen lig vir daai blesbok.

Jy kry houtpyle te koop in bondels wat min of meer dieselfde dikte en spanning spine het. Die spanning is gewoonlik 'n idee van die ponde wat jou boog skiet. My boog van 46 pond doen goed met pyle wat 'n aangeduide spanning van 40 tot 45 pond het. Wat ek dus wil duidelik maak, voor ons by die 597 grein uitkom, is dat jy pyle koop wat jy weet nie presies dieselfde spanning het nie en nie presies dieselfde gewig is nie. Hoe langer jy jou pyl maak om dit swaarder te kry, hoe slapper word die spanning, veral met 'n swaarder jagpunt. Dit kan jou akkuraatheid ernstig beïnvloed.

My kompetisiepyle is normaalweg 28 duim lank en 40 tot 45 spine met 'n 125 grein-veldpunt. Sonder die veldpunt weeg dit in die omgewing van 320 grein (dit verskil soms met tot 25 grein). Verder wil ek ook noem dat ek die vere so plaas dat my hoofveer penorent en in lyn met my snaar loop. Dit is belangrik om in gedagte te hou om later die kloutjie by die oor te kry.

Hoe kom ons nou by 597 grein uit?

Ek het ook besluit om die beoogde pylgewig op te skuif na 600 grein. Omdat my pyle almal op 28 duim is, las ek toe 3 duim aan, om te verhoed dat die jagpunt teen my hand raak op voltrek. Dit gee ook ekstra gewig. Volgende het ek, omdat ek nou 'n baie swaarder pylpunt gebruik, besluit dat ek 'n stywer pyl moet gebruik as wat ek normaalweg skiet. Ek het toe al die houtpyle wat ek het op my spine tester getoets en 3 pyle gekry wat presies 50 getoets het. Dit is 5 tot 10 pond stywer as my gewone pyle.

Die pyl: 31 duim met vere en nok = 375,5 grein. Ons kort nog 224,5 grein. Jagpunt: Zwikey sonder insert = 137,5 grein (totaal: 513 grein)

Ek kort nog 87 grein. Hoe nou gemaak? Die volgende proses is uniek en moet vir elke pyl aangepas word, as gevolg van die verskil in pylgewig. Ek maak 'n klein foutjie en skuur 0,5 grein te veel af. Dus 86,5 grein.

  1. Set 'n 125 grein-veldpunt aan 'n stuk houtpyl.
  2. Bestudeer die insert wat uit die Zwikey gehaal is (maak met vlam warm en trek met tang uit).
  3. Werk die 125 grein-veldpunt met 'n amarilsteen (of draaibank) af, op min of meer die grade van die Zwikey se insert.
  4. Weeg en pas gereeld. Onthou, ons soek 86,5 grein en hierdie afgewerkte punt moet darem redelik agter in die Zwikey pas.
  5. Set die 86,5 grein punt aan die pyl.
  6. Set die Zwikey met dieselfde hars oor die afgewerkte veldpunt.

Belangrik nou is dat die lem, terwyl die hars nog warm is, so gedraai word dat die lemme parallel met die hoofveer en die snaar loop. Ek het gevind dat hierdie rangskikking die pyl meer stabiel maak oor 'n afstand van 20 treë. Ek hoop die kloutjie is nou by die oor.

Hoe die afgewerkte veldpunt in die Zwikey pas.Kom ons kyk net weer na die greine:

  • Pyl, nok en vere – 375,5 grein
  • Afgewerkte veldpunt – 86,5 grein
  • Zwikey 2-lem – 137,5 grein
  • TOTAAL: 599,5 grein

Met die harsgom waarmee alles aanmekaargesit is, was die totale gewig van die pyl op die ou end 602,5 grein. Hierdie pyl het 142 vt/sek op die chronograaf geregistreer. Met drie van hierdie pyle het ek baie mooi op 20 treë gegroepeer. Al nadeel wat mag voorkom, is dat die stadige pyle kan meebring dat snaarspring 'n faktor kan wees. Sal net nader aan die dier moet kom!

Ons kan dit nie meer 'n Zwikey noem nie. Hierdie patent doop ek nou 'n Driezie!

Nou ja, ek sit nou met drie pyle, elkeen gelaai met sy eie Driezie-jagpunt. Ek het die bok. Maar daar is nog drie weke voor ek my afspraak met Rondeberg Safari's kan nakom. Hou dié spasie dop vir terugvoer. Intussen kan die manne wat weet, my idee afkeur, goedkeur of uitmekaarskeur.

Ons praat weer.


 

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 94 guests and no members online