We have 26 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more

Die groot kruishoringkoedoe

Deur Ivan Smit

Ivan by die 60 duim-koedoe wat hy geskiet het.> Ivan by die 60 duim-koedoe wat hy geskiet het.

Dit is 5 am Vrydagoggend en my gedagtes flits willekeurig terug na die uitsonderlike koedebul wat iewers op die plaas Woestalleen rondswerf. Ek, my pa en vriend JP gesels deurlopend oor dié jag wat voorlê terwyl die N1 stelselmatig afgelê word op pad Sterkrivier toe.

Ek het dié koedoebul die eerste keer op 'n mooi Sondag­oggend gesien – nog vroeg in die winter. Ons was op ons eerste jag van die seisoen en ek, my pa en oom Henk van Woestalleen, was op pad om my vriend JP te gaan oplaai by die skuiling waar hy die middag deurgebring het. Daar staan hy toe, die uitsonderlike koedoebul. Op daardie oomblik het ek geweet dat ek die een moes wees wat hom skiet... kom wat wil. Oom Henk het al vertel van die koedoe met horings wat na binne toe draai en nie buitentoe nie. Mens kan jou dit nie indink nie, maar wat 'n mooi gesig as jy die voorreg het om dit te kan sien. Daardie naweek was daar nie kans om hom te skiet nie, maar ek het myself voorgeneem dat ek terug sal wees net vir hom.

Die vooruitbespreekte jagte wat gevolg het en die rugby het ons besig gehou deur die seisoen. Hoewel ek elke jag geniet het, kon ek die gedagte om daardie bul te gaan skiet nie laat gaan nie. Ek het aanmekaar vir my pa gevra om nog 'n jag op Woestalleen te reël. (My pa sal natuurlik vertel dat ek die hele tyd geneul het om te gaan.) Om een of ander rede was my pa maar traag om dit te reël.

Hoe meer tyd verloop het, hoe meer het ek gestres, want wat as iemand anders nou my koedoe gaan plattrek. Net voor my 15de verjaarsdag in Augustus roep my ma en pa my nader en vra wat ek vir my verjaardag wil hê en natuurlik was my antwoord niks anders as daardie koedoe nie asseblief. Só word daar toe 'n gesinsnaweek op Woestalleen gereël – die naweek net na my verjaarsdag. Ek kon nie wag vir die naweek om aan te breek nie. Ek was al die vorige dag klaar gepak. Ek het besluit dat ek hierdie besonderse koedoe met die boog wil skiet wat my pa vir my gebou het. 'n 55 pond-take-down. My pyl – 'n Goldtip Heritage en jagpunt, 'n 145 grein-Snuffer.

Dit was 7:30 die 9de Augustus toe ons met volle verwagting op die plaas Woestalleen stop. Vol opgewondenheid is ek en JP soos blits uit die kar en laai eerste die boë uit. Gou 'n paar oefenskote skiet voor oom Henk opdaag om ons elk na 'n skuiling te neem. Op pad skuiling toe moes ek myself omtrent inhou en bid vir rustigheid in my gemoed. Nadat ons JP by 'n skuiling afgelaai het, is ons in 'n teenoorgestelde rigting na my skuiling vir die dag. Daar aangekom het die wind woes begin waai en nog in die verkeerde rigting ook. My moed was in my skoene. Die hoop beskaam nie soos my ma sou sê en ek het my skuiling betrek. Nou is dit net wag.

Na 'n uur en 'n half het ek die eerste keer lewe om die skuiling begin sien. Dit was 'n pragtige koedoebul gewees, maar nie die een waarvoor ek gekom het nie. Hy het reguit op die skuiling afgestap en skielik omgedraai en weggedraf. Dit was die wind, dit het van die verkeerde kant af gekom en hy kon my ruik. Moedeloos het ek geweet my kanse is maar skraal die dag. Nie te lank daarna nie het dieselfde gebeur met 'n knypkop en rooibokooi. Ek het geweet as die wind nie gaan bedaar nie, lê daar heel waarskynlik 'n onsuksesvolle jagnaweek voor. Ek het nie baie hoop gehad nie.

Meteens stop oom Henk en my pa by die skuiling. Hulle laat my weet dat hulle die uitsonderlike koedoe by die ander skuiling agter die berg gesien het. Na ons ons opsies bespreek het, besluit ons toe om wel die kans te vat en te skuif na die alternatiewe skuiling. Natuurlik het hy hom uit die voete gemaak nadat hulle daar verby is.

My ma, sussie en boetie was op pad en ons moes nog kamp gaan opslaan. Die middag was besig om aan te stap, maar ons het tog besluit dat ek 'n rukkie by daardie skuiling sal gaan sit. By die skuiling aangekom, was daar nie eens 'n insek wat geroer het nie. My pa-hulle is weg en ek het stelling ingeneem – nie met baie moed nie bygesê. Binne 15 minute was daar egter drie jong koedoebulle wat ingekom het en omtrent 'n half uur later het daar 'n trop rooibokke ingekom. Daar was hoop!

Uiteindelik het ek 'n paar groot koedoebulle sien aankom. Myne het egter weggebly. Ek het my kamera uitgehaal om 'n paar foto's te neem om later vir my pa te wys hoe mooi die koedoebulle was. 'n Bobbejaan wat naby was het die kamera gesien en 'n lawaai opgeskop. Dit was soos blits toe is al die diere weg. Al wat jy kon hoor was die geraas van die bobbejaan in die agtergrond. Ek was kwaad, maar kon niks daaraan doen nie. Nou gaan ek voorwaar niks skiet nie.

'n Ander halfuur later sien ek iets beweeg in die rigting van die skuiling. 'n Vinnige skietgebedjie en asem ophou en daar staan hy, die koedoe met my naam op. Die een waarvoor ek gekom het. Hy was so uniek. My hart het vinniger begin klop en toe tref die bokkoors my soos koue water in die gesig.

Johan (Ivan sa pa), Ivan en Henk du Plessis (plaaseienaar) by dieselfde koedoe.> Johan (Ivan sa pa), Ivan en Henk du Plessis (plaaseienaar) by dieselfde koedoe.

Ek het my asemhaling gereguleer om rustiger te word en toe die koedoe my 'n goeie skoot bied het ek my boog getrek en 'n baie mooi middel longskoot geskiet! Ek kan nie vir jou vertel die blydskap toe ek hom hoor val het nie en hoe lekker dit was om my pa en oom Henk te laat weet dat hulle kan kom nie!

Hulle het daar opgedaag met my sussie en klein boetie wat wou kom deel in my opgewondenheid. Ons het die koedoe maklik gekry. En die bonus! Sy horings het 60 duim gemeet. Verseker gaan hierdie een teen my muur hang. Dankie Here vir die voorreg om dit te kon doen.

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 26 guests and no members online