We have 22 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more

Eerste bok met 'n houtboog

Jean Rossouw met sy blouwildebees.Vir 'n man om sy meisie se pa om haar hand te vra, is al klaar genoeg om die manne van die muise te skei. Maar indien daardie aanstaande skoonpa ook een van die top-langboogskuts en jagters in die land is, hy spesiaal vir jou 'n boog gebou het en jy daarmee jou eerste bok onder sy wakende oog moet plattrek, is dit gewis nie 'n piekniek nie. Jean Rossouw skryf hier oor sy eerste jag.

Dit is snaaks watse draaie die lewe met 'n mens loop. My hele lewe lank het ek uitgesien na dié naweek en dit het uiteindelik aangebreek. Saam met al die opgewondenheid was daar egter ook genoeg stres, want nie net sou dit my eerste jag wees nie, maar boonop sou ek met 'n primitiewe houtboog en hout pyle jag. En dan, helaas maar nie die minste nie, is die ekspedisie saam my aanstaande en haar ouers onderneem en is die einste bogenoemde boog deur my aanstaande skoonpa gebou. Die aanloop na hierdie dag kom al sommer 'n klompie jare en het ek al duisende kere die jagtog in my kop beleef. My kop was inderdaad gevul met soveel advies en skootplasing-gesprekke as wat ek moontlik daarin kon prop – en ek was gereed vir die ervaring. "Vandag is die dag wat ek 'n blouwildebees gaan platrek!" het ek gedink.

Ons het die Vrydagmiddag net voor twee op die jagplaas aangekom, vinnig die bagasie op die bakkie gelaai en vertrek na die akkommodasie toe. By die akkommodasie is die formaliteite vinnig afgehandel en toe is die boë gegryp om nog 'n oefensessie in te werk. Deur die bravade en grappies was ek maar bitter bly dat alles so haastig gebeur het, bloot omdat dit my nie kans gegee het om die situasie te oordink en te analiseer nie.

Ek en my verloofde was die laastes wat by 'n skuiling afgelaai is en die skuiling se deur is half vier toegemaak en dis toe net daar wat dit begin lewe het binne my. Ek het toe myself probeer kalmeer deur te sê: "Dit help nie jy stres nie, met jou geluk gaan hulle nie eers inkom nie". My selfmanupilasie het nog nie eers ingeskop nie toe weergalm die eerste blaas van die einste bees in die nabye omgewing. Ek en my verloofde het op daardie oomblik stip na mekaar gekyk en ek het vir die eerste keer besef dat die oomblik waaroor ek weke lank gestres het, het aangebreek. Die skootplasingspraatjies het weer oor en oor in my kop begin draai.

My trofeë het stadig een vir een begin inkom en 'n linie voor my gevorm! My gedagtes van kies 'n grote was by die deur uit, want ewe skielik kon ek nie meer onderskei nie - almal het groot gelyk! Wat ek wel geweet het, was dat my pyl heel waarskynlik sou deurgaan en dat ek moes seker maak dat daar niks agter die een staan waarvoor ek gemik het nie. Ek het toe uiteindelik een geïdentifiseer en reggemaak vir aksie! Toe begin die sensasie. Dit het kompleet gevoel of my hart na my keel verskuif het. Ek het my oë toegemaak en diep asemgehaal en direk daarna die 60 pond-boog gespan. Vir daardie oomblik het dit gevoel of die wêreld gaan stilstaan het en gewag het vir my skoot!

Die skootplasing en "een derde op" gedagtes was iets van die verlede; ek het vertroue gehad om die boog te release. Die pyl het gevlieg en na wat gevoel het soos 'n ewigheid, 'n hengse slag gemaak op impak. My pyl het regdeur die blouwildebees getrek, maar ek het geweet ek was 'n rapsie weg vanwaar ek moes wees. Die koei het met impak bo-oor 'n jong vers langs haar gespring en koers gekies. Maar met haar draai sien ek toe die reuse bloedstraal wat ongeveer twee meter in die lug opspuit. Dit was kwart voor vier en net daar besef ek die koeitjie is myne! Ek het haar sien val en die wag het begin, die wag vir die trop om aan te beweeg...

Ek het by my bok geposeer met 'n breë bors, maar terselfdertyd gewens dat my oorlede pa daar kon wees om my te sien. Ons het die bok toe op die bakkie gelaai en vertrek na die skuiling waar my aanstaande skoonma gejag het. Ons was gelukkig die dag, want binne 'n uur het ek, my skoonma en Yolande Steenkamp ons blouwildebeeskwota geskiet! My skoonma het 'n groot bul en my skoonpa 'n rooibokooi gewiks!

Die naweek was 'n mylpaal in my lewe en het alle verwagtinge oortref. Nie net was ek nou 'n boogjagter met 'n blouwildebees onder die belt nie, maar het ek die voorreg gehad om saam met geliefdes te jag en die oomblikke met hulle te deel! Die naweek sal ek altyd koester en onthou. Ek sê ook dankie aan Johan Pont vir sy gasvryheid, aan Rean en Yolande vir die lekker kuier en die etes en aan my aanstaande familie vir al die moeite, tyd en vertroue wat hulle in my gestel het! As 'n span het julle vir my 'n wonderlike naweek gegee om vir jare wat kom, saam my te dra en te herleef in my gedagtes!

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 22 guests and no members online