We have 66 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more


Johan van der Merwe boogbouer van die Bosveld

Deur Herman Jonker

Johan van der Merwe is 'n buitemens. Dit besef jy baie gou as jy die man agter Combretum Tradisionele Boë se spoor vat.

>> In sy werkswinkel gee Johan gestalte aan boë uit plaaslike hardehoutsoorte.

Dis seker elke man se droom: 'n wildplaas in die bosveld. Johan van der Merwe het syne verwesenlik en dit boonop gekombineer met sy passie vir boë bou. Sy werkswinkel hier op sy plaas in die Dinokeng natuurreservaat noord van Pretoria kyk uit op 'n oop tuin onder skadubome, met bosveld en wilde diere rondom.

Ek is vroeg vir ons afspraak en Johan is nog nie tuis nie, so ek kyk solank bietjie rond om diegevoel van sy wêreld te kry.

Dis 'n buiteman se plek dié, besluit ek terwyl ek wag. Mens kan dit sommer sien. Dit blyk egter Johan soek nog meer buitelug as wat sy werkplek verraai.

'n Mikroligte vliegtuig kom aangevlieg oor die bome, maak 'n draai en kom land op die aanloopbaan wat voor die werfhek verbyloop. 'n Fris man klim uit en lei die vliegtuigie deur die hek. Hy parkeer hom man-alleen in die stoor, trek sy vliegpak uit, en dan is Johan van der Merwe gereed om oor boë te gesels.

<< Johan se boë word gekenmerk deur noukeurige afwerking.

Boogstories vertel hy graag, kom ek agter, maar dit sukkel om iets uit hom te kry oor homself. Die boë moet maar self praat, sê hy.

Wat is sy benadering tot die boogboukuns, vra ek hom om die ys te breek. Sy vakfilosofie?

Kyk, hy's nie iemand vir modegiere nie, wys hy uit. Van nature is hy nie juis eksperimenteel nie, so spesiale ontwerpe en -nisse in boogbou is nie werklik sy voorliefde nie. Hy konsentreer eerder daarop om bewese ontwerpe te vervolmaak as om radikale rigtings in te slaan. Mooi inheemse hout, tradisionele lyne, perfekte afwerking en akkurate, betroubare werkverrig­ting: dis die dinge wat hy nastreef. Hy bou aardse boë. Hartboë.

>> Johan se nuutste driestuk-skepping.

Tog, probeer ek hom uitlok, daar's sy haastige kromboogmodel met die akute krulpunte. Nie sommer 'n gewone boog nie...

Ja, hy was eintlik 'n man vir die langboog, antwoord hy, maar hy't gesien daar's ook 'n behoefte in die mark vir 'n effektiewe kromboog. Johan Smit, 'n boogvriend met 'n perfeksionistiese ontwerpersinslag – hy bou ook kitare –, het gehelp met die ontwikkeling. Die kromboog was uiteindelik 'n groot sukses. Kort – slegs 58 duim – en stil. Met 'n kleinerige handstuk, maar nogtans sonder handskok. En nogal vinnig, ja. Hy doen goed in die mark.

En die driestukboog waaroor ek 'n voëltjie hoor fluit het? 'n Plaaslik-geboude boog wat kan uitmekaarhaal; steek daar enige waarheid in?

Dis 'n nuwe model wat maar onlangs die lig gesien het, vertel Johan. Dis ook 'n kromboog, 'n bietjie meer modern in lyne as die ander een, met 'n geelkoper sluitstuk wat mens toelaat om die twee bene te ontkoppel. Die model se kompaktheid behoort byval te vind by reisende jagters en –skuts, glo hy, en hy hoop dat dit ook 'n gewilde kompetisieboog kan raak.

En die langboog? Is dit nog steeds sy voorliefde?

Die groot man glimlag. Nee, hy sonder nie 'n spesifieke model uit nie. Boë is sy liefde. Boë, en pragtige houtsoorte soos kierieklapper en hardekool wat hy met bamboes kombineer om hulle mee te bou, natuurlik met alle eer aan die Skepper wat dit alles moontlik maak.

Maar hoe het dit gebeur dat hy by boogbou uitgekom het? Dit is immers nie 'n beroep waarvan mens in die voorligtingsklas op skool vertel word nie.

<< Johan toets een van sy langboë.

Hy was altyd maar lief vir die buitedinge, vertel hy. Kleintyd, daar op die plaas in die De Wildt/Brits omgewing, het hy al bogies gemaak uit rosyntjiebos of karee om voëltjies mee te jag. Maar dis eintlik toe hy as seun Jan van der Post se boesmanstories gelees het dat hy begin droom het. Soveel so dat hy dit op 'n stadium oorweeg het om weg te loop Kalahari toe. Hy het selfs 'n kompas bekom en 'n lysie gemaak van wat hy sou moes saamdra.

Maar die lewe het sy loop geneem met ander dinge, tot so twintig jaar gelede, toe hy die plaas hier gekoop het en wild daarop gevestig het. Toe die bokke ge-oes moes word het hy weer aan 'n boog begin dink. Met die opbloei in boogjag het hy ook met boogjagters te doen begin kry en al was hy self toe nog 'n geweerjagter, het sy kop begin skuif.

In 2002 het hy uit sy be­roep getree en by boogbouer Jaco Wessels se onderneming betrokke geraak. Jaco was grootliks die man wat hom begeester het en touwys gemaak het in tradisionele boë, sê hy. In 2004 het hy sy eie paadjie begin loop, met Jaco se ondersteuning en met advies van Johnny Snyman en Johan Smit. Boogbou het sy voltydse beroep geraak en 'n langboog van sy eie ontwerp het gestalte gekry as sy eerste produk.

En die naam wat hy gekies het: Combretum Boë?

Dis maar 'n poging om die bosveld te eer, sê hy. Die mooi hardehoute – combretum – wat hier groei, en die hele aura van die bosveld.

Want dis waar sy hart lê: in die buitedinge. Met sy oop mikrovliegtuigie sweef hy oor die diere van Dinokeng en het hy selfs al deur Mosambiek getoer. Daar's motorfietsreise na ver plekke en daar's die geheime van die veld om te ontsyfer. En jag, ja. Hy's geen trofeejagter nie, maar met sy geweer of met een van sy eie tradisionele boë skiet hy gereeld 'n bok.

Dis juis sy eie boog se koedoefillet en wildebeeswors wat hy vir ons braai, sê hy later waar ons by 'n hardehoutvuurtjie langs sy huis sit. Hy't hulle net hier anderkant geskiet.

Die aand saam met Johan raak 'n mooi en interessante een. In die geselskap van so 'n natuurmens kan mens nooit verveeld raak nie. Die stories sweef op 'n rokie wat regop trek en uit die bos kom die roep van 'n rooijakkals. Later antwoord nog een, anderkant.

In die lig van die Colemanlamp kyk ek na Johan se gesig wanneer hy sy kop skuins draai om te luister. Hy lyk tevrede, sien ek. Hy moet wees, want hy's buite, in die bosveld.
Johan van der Merwe kan gedurende werksure gekontak word by 083 544 7042.

Updated: Monday, January 23, 2012 11:39 AM


 

About the Author

Herman Jonker

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 66 guests and no members online