We have 38 guests and no members online

Vuur1SURVIVAL
The ability to live longer, with the least amount of pain, and the greatest possibility of a future… Read more

HenkDuPlessisSOUTH AFRICAN BOWYERS
Building handcrafted bows comparing to the best in the world ... Read more

Pic-2-bTRADITIONAL BOWS TESTED
Reviews of locally made traditional bows...Read more


Herskepper van die tradisionele

Johnny Snyman is one of South Africa’s best-known bowyers. He has been a bow enthusiast all his life and is known all over the country for the beauty and functionality of his products. Herman Jonker interviewed him for Africa’s Bowhunter.

Johnny Snyman bou nie net tradisionele boë nie, hy laat die eienskappe en romantiek van antieke wapens herrys vir moderne skuts. Maar wie is die man agter die naam? Herman Jonker het met hom gaan gesels.

Die pad na Johnny Snyman se werkswinkel naby Sedgefield loop deur die hart van die Suid-Kaapse kuswoude. Hmm. Heartwood Bows, noem hy sy besigheid. Dit maak sin.
Dis ’n fris man wat uitkom om te groet. Mus op die kop en vaal van die saagsels. Jy verwag ’n groot persoonlikheid ook – sy roem as bouer van tradisionele boë loop hom immers ver vooruit. Agter die sterk handdruk vind jy egter ’n bykans skugter ou met ’n nederigheid eie aan die soort persoon wat homself en sy roeping gevind het.
Dis rustig in die werkswinkel, koel in die skadu van die bome. Die klompie masjiene wil die plek na ’n fabriek laat lyk, maar die atmosfeer is eerder dié van ’n ateljee. Johnny bring koffie en die aroma vul die houtgeur wat in die lug hang tot volle karakter terwyl Jack die pitbull lê en luister wat ons gesels.

Waar het dit alles begin, vra ek.
By ’n ou swart-en-wit-Tarzanfliek in Bulawayo. Hy was net vyf jaar oud, maar die lyne van daardie kurfboog op die skerm en die klap van sy snaar is steeds helder.

Van sy derde tot sy sesde jaar het hulle in Rhodesië gebly, vertel Johnny. Wonderlike jare, die regte plek op die regte tyd vir ’n laaitie soos hy. Tarzan se boog het gesorg dat ’n klerehanger die volgende dag ’n reksnaar gekry het en kort daarna het ’n plaaswerker vir hom ’n houtbogie gemaak waarmee hy en sy verbeelding baie plesier gehad het.

Later, terug in Johannesburg, was daar ’n boogstel in sy Kerskous. Op sy agtste verjaardag het hy ’n egte Bear van veselglas gekry, weer ’n kurfboog, en daarna ook ’n bietjie afrigting by ’n oom van hom wat ’n teikenskut was. Johnny het baie geskiet, sommer in die agterplaas.

Twee jaar in die weermag en ’n kommersiële duikkursus het voorlopig ’n einde gebring aan sy boogliefde. Eers later, toe hy hom as diamantduiker in Port Nolloth bevind, het die gogga weer gebyt. Daar was afdae en dae wanneer die see te onstuimig was en hy moes besig bly. Hy het ’n Barnett-teikenboog van 40 pond, met visiere, aangeskaf, maar spoedig teikenvrees gekry. Vir hom wat van kindsdae af met ’n kaal boog geskiet het was ’n visier net te intimiderend.

<< ’n Boog met ‘n tipiese Asiatiese/Midde-Oosterse punt.

Toe, vertel Johnny, kom die groot ommeswaai: die konsep van instinktief skiet, sonder om te mik, wat hy ontdek het in Fred Bear se boek The Archer’s Bible. Dit was vir hom ’n openbaring. Sommer dadelik ná hy die visier en bybehore van die Barnett afgehaal het, het dinge vir hom begin sin maak. Hy het beter geskiet, maar ook besef dat die boog eintlik te lig was vir hom.

Sy volgende boog was ’n 20-jaar-oue Pearson Mercury Marauder van 55 pond, van veselglas, wat hy by die pionier-onderwaterfotograaf Gary Haselau gekoop het. Op sy afdae het hy in die sandveld en duine rondgeloop en pyl na pyl geskiet op voorwerpe in die veld.

‘Stump shooting’, soos hy dit noem, tot 500 skote per dag, het sy instinktiewe vermoëns geslyp tot ’n punt waar hy letterlik ’n haas in die hardloop kon skiet.

Maar toe trap Johnny in ’n slaggat – een waarteen hy steeds ander skuts waarsku. Die aanloklikheid van meer krag het hom ’n boog van 72 pond laat koop, ’n Martin X200. Sommer gou het sy skote begin dwaal. Eers het hy nie geweet wat aangaan nie, tot hy besef het dis die boog wat hóm begin beheer het en tot onbeheersde, haastige skote dwing.

>> Johnny besig met die vorming van ’n booghandvatsel uit inheemse assegaaihout.

’n Jaar terug by die 55-ponder het hom genees. Daarna het hy dit weer na swaar boë gewaag, maar gereeld ook ligter boë geskiet om goeie boogbeheer te behou.

In 1999, ná tien jaar in die koue waters van die Atlantiese oseaan, het hy gevoel dis tyd om sy hart en kop te volg. Hier in Sedgefield se houtwêreld het hy kom anker gooi om boë te bou. Enkelstuk-houtboë, want houtwerk was sy ander liefde.

Sy vaardige vingers het begin om plaaslike assegaai en kamassie, sowel as sentraal-Afrikaanse en eksotiese houtsoorte, te omskep in sierlike langboë, maar verkope was traag. In ’n moderne konteks mag die eenstuk-houtboog wel klassiek eerder as primitief wees, maar hy het steeds sy beperkinge. Johnny moes uitvind dat die mark aanbeweeg het na meer gevorderde materiale.

Die sprong na die tegnologie van gelamineerde boë het vereis dat hy eers weer moes gaan duik om die nodige kapitaal te kry. Ná twee jaar onderwater in die diep seë van die Verre Ooste en die olievelde van Wes-Afrika was hy terug.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Vandag is Johnny een van Suid Afrika se mees gerespekteerde boogbouers, veral bekend vir sy kurfboë en Asiatiese boogvariante. Hy bou ook steeds langboë en hibriedes, met die aksent op duursaamheid en ’n tradisionele voorkoms.

Massaproduksie? Nee, dit deug nie vir hom nie, sê hy. Dit strook nie met passie en kwaliteit nie. Al sy boë is doelgebou, en daarom is daar vir voornemende eienaars ’n wagtydperk van twee tot ses maande.

Die meeste van sy skeppings gaan na plaaslike sportskuts en jagters, maar hy verskaf ook aan oorsese kopers. Hy bou ook boë en replikas vir rolprentvervaardigers en versamelaars van antieke wapens. Boogbybehore, asook materiale en komponente vir selfbouers, vul die Heartwood-reeks verder aan.

Johnny is nederig oor sy sukses. Hy skryf dit graag toe aan die hulp wat hy ontvang het van boogpionier Derek Nourse. Hy het self jare gelede een van Derek se Norsemen-boë gekoop en het deurgaans goeie advies by hom gekry – ook toe hy hom destyds vasgeloop het teen te veel ponde. Baie oproepe en vrae het gelei tot ’n vriendskap en vandag beskryf Johnny vir Derek as ’n katalis in sy ontwikkeling as boogbouer.

Maar wat van Johnny se eie bydrae tot die Suid-Afrikaanse boogtoneel? Vanwaar byvoorbeeld die Midde-Oosterse tipe boë?
Wel, hy verkies om voort te bou en te verbeter op antieke idees, sê hy, eerder as om iets nuuts te skep. Aanvanklik was dit die ongewone vorm van Asiatiese boë wat hom geïnteresseer het, maar namate hy die historiese en praktiese aspekte ondersoek het, het hy al meer gefassineer geraak. Hy glo die gewone langboog het meer krediet ontvang vanweë sy bekendheid as ’n Engelse wapen, maar die tradisionele Midde-Oosterse en Asiatiese kurfboë met hul akute kurwes is steeds meer effektief in terme van afstand, penetrasie en slaankrag. Hulle stoor meer energie.

Sy eerste Skitiese (Scythian) boog het ses maande geneem om te ontwikkel, maar dis nie waar dit geëindig het nie. Die proses is nooit klaar nie. Elke nuwe boog is weer ’n skoon vel papier.

Johnny kyk na boogskiet uit ’n filosofiese oogpunt en is altyd op soek na ander horisonne. Deesdae is dit veral die tradisionele Hongaarse ruiterskuts en hul skietstyl wat hom interesseer. Om met ’n boog te kan skiet van ’n perd se rug af maak nuwe moontlikhede oop, glo hy – veral in sportskiet. Daarom is hy tans aktief betrokke by die stigting van ’n nasionale orga­nisasie om hierdie faset van boogskiet as ’n sport te bevorder.

Turkse boë van hout, horing en sening is dalk die volgende stap in sy herontdekking van die tradisionele, sê hy. Hy’s lief vir hout, veral die Knysnasoorte wat hy graag vir grepe gebruik, en hy het ’n goeie oog vir die karakter daarvan. Hy probeer deurgaans die estetiese voorkoms van die hout in ’n boog behou, maar ander natuurlike materiale soos horing en been het ook vir hom ’n aantrekkingskrag.

Is hy self ’n goeie skut?

Die nederigheid glimlag. Redelik, reken hy. Hy skiet nie mededingend nie, nie kompetisies en kampioenskappe en so aan nie, maar hy doen graag demonstrasies om boogskiet te bevorder.

En die storie dat hy die bronskern uit ’n vyfrandstuk kan skiet as iemand die munt in die lug opgooi?
Ja, wel.. soms. Met instinktief skiet is alles moontlik. Hy’s ’n totale aanhanger van die metode. Ouens verstaan nie as hulle hom sien skiet nie – hulle dink dis mog-het-troffe as hy sommer so aanlê en skiet sonder om te mik. Maar hy skiet nie na papier nie, veral nie herhaaldelik nie. Papier laat jou tweedimensioneel sien, terwyl ’n derde dimensie, dié van diepte, nodig is om die brein te kondisioneer om instinktief te skiet.

Jag hy?

Dikwels ja, met die pylgeweer in sy bekende onderwaterwêreld. Die see is net hier anderkant. Op land is dit bosvark en bosbok met die boog. Voëls ook, gewoonlik tarentale en fisante in vlug. Af en toe, soos wat die boogbouery toelaat, vat hy die langpad om elders te gaan jag. Maar baiekeer gaan stap hy sommer net hier in die omgewing – nie om te jag nie, net om in die bos te wees, tussen die bome. Dis vir hom lekker.

Natuurlik. Heartwood Bows – pit van die hout, hartbos.
Wanneer jy klaar gegroet het en weer die pad vat deur die bosse, weet jy: Johnny Snyman se hart is in hout en sy kop is deurspan met boë.

Updated: Monday, May 23, 2011 9:43 AM


 

About the Author

Rean Steenkamp

Rean Steenkamp

Rean Steenkamp, editor and owner of Africa’s Bowhunter magazine, is an enthusiastic traditional archer and bowhunter. He started hunting with a longbow in 1997 and has since bagged many African plains game with traditional bows, compound and black powder rifles. He also dabbled in bow building and published a bowhunting book titled “Let loose the arrow!”

Rean started his career in journalism in 1984 at a newspaper in Pretoria, South Africa. He interrupted his career at the end of 1991 when he joined the 37th weather team expedition to Gough Island, where he worked for 14 months as the communicator. The team consisted of only seven people living in isolation on the seven by 16 km island. Rean started the Africa’s Bowhunter magazine in 2000 while working as editor for the Game and Hunt magazine.

DeriekN1

Norsemen Archery, producer of the finest traditional bows has relocate to 285 Queen Elizabeth Ave, Manor Gardens, 4001. Land line 031 2617405 / 0741395598.
Derek Nourse

combretumMaart-2011

Traditionele lang en recurve boë deur Johan vander Merwe. 083 544 7042. Pasmaak vir jou

CUPIDAPRIL09Pierre de Wet
073 151 1992
Marble Hall
pierredewet@lantic.net

Heartwood Bows
Johnny Snyman: Bowyer
• Custom crafted traditional longbows, recurves and youth bows.
• Custom crafted arrows and leather archery accessories
• Custom crafted allwood and sinew-backed bows for purists
jheartwood@mweb.co.za   http://www.heartwoodbows.co.za

Copyright ©African Archer 2014. All rights reserved.
Designed by olwebdesign.com

We have 38 guests and no members online